Lifestyle

STEAK UIT DIE OOSTE

Daar is tye wanneer sekere geure en smake aan ’n mens se hartsnare trek, of hoe?

Oosterse kos het die afgelope twee dekades soos ’n afvlerk-draak op Suid-Afrika neergedaal. Ek was al deur my eerste middeljarekrisis toe “soesji” nog ’n woord was wat gebruik is om kleuters van ongewenste voorwerpe weg te jou. “Thai” was toe ’n beskrywing van ’n “toffie” en enige gereg wat afkomstig was uit die Ooste is met een oog op die spyskaart en een oog op jou troeteldier uitgekyk.

Vandag is daar soesji-restaurante op plekke twee dae se ry van die see af en is daar dele van Kaapstad waar spring-rolls gewilder is as koeksisters. Ha-so!

Maar tensy jy baie tyd op jou hande het, is dit die beste om Oosterse kos oor te laat aan diegene wat weet hoe en wat die regte tegniek en bestanddele is.

Tog is daar tye wanneer ek smag na iets vanuit die lande wat die sonsopkoms die eerste sien, gewoonlik na afloop van een van Uma Thurman se karate-houe in ’n Quentin Tarantino-fliek of wanneer mens agter die stuur is van ’n Kawasaki wat ek by my samoerai-swaard verskaffer geleen het. Dan braai ek Oosters.

Soos in: Sirloin-steak, gebraai met brandewyn en Coke.

Hierdie sous het sy ontstaan in die antieke Japanse kookkuns, so moenie lag nie. Hulle gebruik net rysasyn en ryswyn en suiker en so. Danksy Coke en die Suid-Afrikaanse distilleerkuns, is als hier sommer baie makliker, met dieselfde heerlike soetsuur-effek.

Neem die volgende vir die sous:

Twee koppies Coke

Halwe koppie brandewyn

Eetlepel Mrs Ball’s-blatjang

Twee eetlepels sojasous

Twee eetlepels goeie asyn (nie balsamies – dis te soet)

Verhit pan – kwaai. Gooi twee koppies Coke en die brandewyn in die pan. Voeg Mrs Ball’s by. Kook af tot die hele storie ’n dunnerige stroop maak. Klits dan die sojasous en asyn by, en kook vir nog so drie, vier minute. Koel af.

Nou vat jy jou sirloin steaks en plaas hulle in die swart sous. Bedek die vleis met die sous en los vir 30 minute – maksimum.

Braai nou die steaks op jou rooster, op oop warm kole. As – en net ás – die vleis droog begin lyk, mag jy dit met die marinade besmeer. Kyk net na die lieflike kleur wat die sous aan jou vleis se buitekant gee. En omdat die marineertyd skraal was, is al die sappe en geure van jou bees vasgevang in die steak se hart.

Dieselfde marinade kan uiteraard op rump, T-been en filet gebruik word.

Vinnige wenk oor steak: Hoe gaar is gaar?

Dis jou steak, en jy het daarvoor betaal. As jy hom bloederig-rou of houtskool-hard gebraai wil eet, dit is jou indaba. Daar is net een manier om ’n steak – of enigiets anders – te berei, en dit is soos jy en jou familie en vriende daarvan hou. Voorskrifte is vir apteke, nie vir kos nie.

Ek hou egter van ’n steak wat so halfgaar is. Warm regdeur, maar genoeg rooi in die middel om die ware geur van die vleis na vore te bring en om weer eens vir my my sterre te laat bedank dat ek nie ’n vegetariër is nie.

Om die regte braai- of kooktyd te bepaal … wel ou grote, dit is waar jý as kosmens na vore kom. Net jy kan dit bepaal. Tyd is nie ’n maatstaf as jy braai nie, want kole-temperatuur wissel. Jy moet daardie vleis voel as hy op die kole of in die pan lê: hoe sagter, hoe rouer. Hoe harder, hoe gaarder. Oefen en ervaring. Dis al wat tel, wel, só het my buurvrou my altyd vertel.

Sayonara, my skat.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*